Die lief en leed van oom Paul se kleindogters

Untitled Document

Angie Kleijn

Wie het Paul Kruger geselskap gehou voor sy dood as banneling in die vreemde? Met wie kon hy die hartseer van sy vrou, Gezina, se dood in Suid-Afrika deel? Hier vertel ons vir jou die verhaal van die kleindogters wat Oom Paul se hand vasgehou het en die mans wat hulle so ontmoet het. 

Volgens oorlewering het President Paul Kruger twee gunsteling kleindogters gehad; Nettie en Elsie Eloff, dogters van Frederik Christoffel (Ryk Freek) Eloff en Elsie Francina Kruger.

Paul Kruger het op 17-jarige ouderdom met Anna Maria Etresia du Plessis getrou. Ná Anna en hulle seuntjie oorlede is, waarskynlik aan malaria, is hy met Gezina Susanna Frederika Wilhelmina du Plessis getroud. Die egpaar het 16 kinders gehad, nege seuns en sewe dogters, maar sommige van hulle is as klein kindertjies dood.

Elsie, hulle oudste oorlewende dogter, is op 7 Oktober 1896 met Ryk Freek, later die president se private sekretaris, getroud. Elsie en Ryk Freek het nege kinders gehad, onder andere Elsie Francina, gebore op 8 Maart 1880, en Stephanetta Johanna Paulina (Nettie), haar oupa se naamgenoot en op sy verjaarsdag op 10 Oktober 1877 gebore. Dié twee het diep in hulle oupa se hart gekruip.

Dié Eloff-susters het op ‘n plaas, wat toe net buite Pretoria was, grootgeword. Ryk Freek het op die noord-oostelike deel van die plaas Daspoort, wat hy in 1896 gekoop het, gewoon en dit na Eloffsdal herdoop.


Paul Kruger se kleindogters, Elsie Eloff, links, en haar suster Nettie
Foto: UP Biblioteekdienste

Oorlog
Nettie en Elsie was, saam met Cornelia Reitz en ’n mev Van Alphen, vrou van die posmeestergeneraal, die beste skuts in die vroue-skietklub wat in die begin van die Engelse oorlog in Pretoria gestig is. Hulle plan was om Pretoria vrou-alleen te verdedig terwyl die mans weg is.

Aan die begin van die oorlog is baie huise in klerefabrieke omskep. Nettie en Elsie het die klere-projek in Pretoria bestuur. Hier het honderde vroue in die Hooggeregshofgebou hemde, broeke en jasse gemaak en na die kommando’s aangestuur. Hulle het aanhou werk tot die Britte Pretoria ingeneem het.

Toe Paul Kruger sy siek vrou in Pretoria moes agterlaat en as banneling in die vreemde moes bly, is Ryk Freek en gesin saam, asook die president se lyfarts, Dr Willem Heymans, sy lyfbediende, Happe, predikante soos Abraham Kuyper en die Springbokrugbyspeler, dr Herman Dirk van Broekhuizen, en die president se lyfwag, Hermanus Christiaan (Manie) Bredell.

Uit dié geledere het Elsie en Nettie se toekomstige huweliksmaats gekom. Terug in Suid-Afrika ná die president se dood, is Elsie op 20 Januarie 1904 met Herman van Broekhuizen getroud en Nettie op 12 Oktober 1905 met Manie Bredell.


Manie en Nettie Bredell met hul dogtertjie Ella
Foto: Mimmie Erasmus versameling

Herman  
Herman Dirk van Broekhuizen is op 17 Junie 1872 in Rijssen, Nederland gebore. Enkele jare later is hy saam met sy ouers terug na Suid-Afrika, waar sy predikant-pa Hendrik voorheen in die bediening gestaan het.

Herman het teologie studeer aan die Victoria College (later Universiteit van Stellenbosch) waar hy in 1896 Springbok rugby gespeel het. In 1897 het hy en ‘n vriend deur Europa en die Midde Ooste getoer, ‘n belangrike draaipunt in sy lewe wat sy horisonne verbreed het.

Met sy terugkeer is hy op 10 Februarie 1899 as hulp-prediker onder ds Bosman in Pretoria ingeseën en, alhoewel hulle nie aan dieselfde kerk behoort het nie, het president Paul Kruger die persoonlikheid van die vurige jong prediker waardeer.

Toe hy maar nog in sy twintigs was, het die groot eer hom toegekom om op 10 Oktober 1899 die laaste sitting van die Volksraad, voor sluiting vir die oorlog, met gebed af te sluit. Herman is op kommando weg, maar moes dringend terugkeer na Pretoria. Sy ma was ernstig siek.

Hy het op 12 Junie 1900 in Pretoria aangekom en is die volgende dag deur die Britse militêre owerheid in hegtenis geneem. Herman het geweier om die eed van neutraliteit voor Generaal Maxwell, die Engelse goewerneur van Pretoria, af te lê en is tot tronkstraf gevonnis.

Hy is egter op parool vrygelaat en moes twee keer per week by generaal Maxwell rapporteer. Na drie weke is hy uit Suid-Afrika gedeporteer en Lord Milner het hom nie toegelaat om terug te keer nie. Herman kon sy predikantspligte in Pretoria eers bykans sewe jaar later hervat.


Dr Herman Dirk van Broekhuizen, Suid-Afrikaanse gesant in Nederland, 1933-1940
Foto: Zuid-Afrikahuis

Pleidooi
In dié tyd is hy na Amerika om geld vir die Boerevrouens en kinders in konsentrasiekampe in te samel. Hy het dit reggekry om groot bedrae in te vorder terwyl hy self met die minste moontlik klaargekom het.

Herman is op 22 Augustus 1902 na die 27ste Hollandse Taal en Literêre Kongres in Nederland om ‘n pleidooi vir Afrikaans as taal vir die Boerevolk in te dien. Dit is toe dat Oom Paul hom gevra het om in Europa by hom te bly.

Elsie het Herman in die suide van Frankryk ontmoet in die tyd toe sy haar oupa in ballingskap vergesel het. Selfs ná die oorlog mog Herman nie na Pretoria teruggekeer het nie. Elsie en Herman is op 20 Januarie 1904 in die Groot Kerk in Kaapstad getroud. Hy is op 24 Januarie 1907 toegelaat om weer in Pretoria te preek.

In 1909 was Herman een van die stigters vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Letterkunde en Kunste, later die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Hy was ‘n groot voorstander van Afrikaanse volksonderrig en as voorsitter van die Afrikaans-Hollandse Taalvereniging het hy die Smuts onderwyswet gekritiseer vir die verwaarlosing van Afrikaans. Hy het gesê dat ‘n nuwe minister van onderwys nodig was.

Herman was op 10 Oktober 1914 betrokke by die Krugerherdenking in die Operahuis, waar 'n ernstige onderonsie tussen die twee taalgroepe plaasgevind het.


Herman en Elsie van Broekhuizen, tweede en derde van regs in die voorste ry,
op ‘n 27 November 1935 besoek aan Rijssen
Foto: Rijssens Museum

Elsie
Met die 1914 Rebellie het Elsie die vroue van Pretoria georganiseer om hulp te verleen aan die gevange rebelleleiers. Herman het aktief aan die Rebellie deelgeneem, is gevang en het 18 maande in die Johannesburgse fort deurgebring.

Elsie het ook 'n leidende rol in die organisasie van die vrouebetoging van 1915 gespeel. Sy was een van die vroue wat die petisie vir die vrylating van die rebelleleiers aan die Goewerneur-Generaal oorhandig het.

Ná Herman se vrylating het hy met die kerkraad koppe gestamp en het op 17 Januarie 1915 sy bedanking as predikant ingedien. Hy is eers weer op 7 Augustus 1917 deur die Minister van Justisie toegelaat om 'n beroep van die Hervormde Kerk te aanvaar.

As predikantsvrou het Elsie vir Herman op plattelandse huisbesoeke vergesel. Met dié besoeke het sy iets agterkom wat haar baie ontstel het: ‘n Groot hoeveelheid boerevrouens het in die kraamproses gesterf, en hulle mans het gou weer getrou om ‘n ma vir die wesies te kry. Dit het beteken dat daar ‘n reuse aantal stiefmoeders was wat stiefkinders grootmaak.

Elsie het besluit dat iets hieraan gedoen moet word; dat boerevrouens beter mediese hulp moet kry. By die Vroue Nasionale Partykongres van April 1918 het sy ‘n beskrywingspunt vir die oprigting van 'n hospitaal vir die opleiding van Afrikaanse meisies in die verloskunde, ingedien.

Elsie se voorstel is aanvaar en 'n afvaardiging is na die administrateur gestuur om vir finansiële hulp te vra. Die administrateur het gemeen dat so iets kan werk, maar het ‘n voorwaarde gestel: alle partye moes aan so ’n organisasie deel hê.

Die aankondiging van die stigting van die Bond van Afrikaanse Moeders het op 31 Januarie 1919 in ‘Ons Vaderland’ verskyn met die volgende komiteelede: mev van Broekhuizen (voorsitster) van die Vroue Nasionale party; mev Greenlees van die Suid-Afrikaanse vroue-party; mev Preller van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie; en ds JA du Plessis van die Helpmekaar beweging.

In April 1920 is aangekondig dat die Moedersbond die huis van President Kruger as sy eerste tuiste gehuur het.


Elsie van Broekhuizen
Foto: Zuid-Afrikahuis

Politiek
Herman het sy doktoraal in 1922 aan die Universiteit van Utrecht behaal en is in 1925 tot Parlementslid vir Pretoria-distrik-suid verkies. In 1929 is hy tot lid vir Wonderboom verkies.

In 1930 het hy 'n leidende rol gespeel in die loods van privaatwetsontwerp wat die Transvaalse Universiteit Kollege (later Universiteit van Pretoria) as 'n onafhanklike universiteit daargestel het. Hy het deurentyd ‘n stryd vir die Afrikaanswording van die universiteit gevoer.

Herman is in Augustus 1933 as Suid-Afrikaanse gesant In Den Haag aangestel. Hy wou egter bedank oor die Smuts-regering se optrede in die Tweede Wêreldoorlog. Tog is Herman oorreed om in sy pos aan te bly en na die inname van Nederland en België het hy in London gewoon.

Die Londense weer het nie met Elsie se gesondheid akkordeer nie en aan die einde van 1941 het Herman haar terug gebring huis toe en in Pretoria kom woon.

Daar is diegene wat sê dat Herman te veel van ‘n politikus was om ‘n goeie dominee te kon wees, en te ‘n goeie dominee was om ‘n goeie politikus te kon wees. Sy emosies het glo in die pad gestaan en hy kon nooit leer om party-politieke dissipline te aanvaar nie.

Elsie is op 8 September 1945 oorlede en daarna het Herman alleen in Pretoria gewoon. Op haar graf staan: ‘Moeder van die Moedersbond.’

Herman het kort voor sy dood in 1953 ‘n eregraad van die Universiteit van Pretoria ontvang. Die gradeplegtigheid was op 18 April en Herman is op 5 Augustus oorlede.


Herman van Broekhuizen en 'n groep Afrikaanse meisies in Voortrekkerklere op 16 Desember 1938
Foto: Zuid-Afrikahuis

Manie
Nettie se man, Hermanus Christiaan (Manie) Bredell, is op 12 Oktober 1865 op die plaas Klein Rustenburg, distrik Stellenbosch, as oudste seun van Johannes Pieter Bredell en Anna Maria van Brakel gebore.

Hy het vir ‘n ruk as padmaker saam met Christiaan Beyers in Pretoria gewerk en as transportryer onder andere vir George Heys van Pretoria. Na drie jaar as ingeskrewe klerk by die firma IG Quin in Johannesburg, het hy as prokureur kwalifiseer en het ‘n beëdigde vertaler in Nederlands en Engels in die Hooggeregshof van die Zuid-Afrikaansche Republiek geword.

Met die Jameson-inval van 1895 tot 1896, toe hy ‘n tweede klerk in die kantoor van die Kommissaris van Polisie was, het Manie ‘n spioen vir die ZAR speurdiens geword. Hy is in 1898 bevorder tot verantwoordelike klerk en het bedags sy polisiepligte gedoen en saans die sekretariële werk.

Hy het ook baie werk by Ryk Freek Eloff, sy aanstaande skoonpa, wat die president se privaatsekretaris was, oorgeneem. Van 10 September 1900 tot Paul Kruger se dood, was Manie die president se lyfwag.

Met die president se tog na Europa, wat via Lourenco Marques geloop het, het Manie saam met sy broer Johannes aan die Slag van Dalmanutha deelgeneem. Hy is saam met die banneling na Europa waar hy ook as privaatsekretaris opgetree het.


Frederik Christoffel (Ryk Freek) Eloff, 1850-1924, en Elsie Francina Kruger, 1852-1924,
se grafte in die Kerkstraat-begraafplaas
Foto: eGGSA Elmari Kemp

Nettie
Na Paul Kruger se dood het Manie in 1905 in Pretoria as prokureur begin praktiseer. Hy is op 12 Oktober 1905 in Pretoria se Gereformeerde Kerk met Nettie getroud en hulle het in 'n huis, wat hulle ‘Ouderliefde’ genoem het omdat Ryk Freek dit aan hulle geskenk het, tussen Voortrekkersweg en Paul Krugerstraat, Eloffsdal, gewoon. Manie en Nettie het twee kinders gehad, Johan en Ella.

In April 1908 het Manie betrokke geraak by die organisering van blanke arbeid in Transvaal en die Oranjerivierkolonie, om oorlogsverarmdes weer op die voete te help.

Hy het op 1 Julie 1908 waarnemende inspekteur van die Transvaalse Polisie geword en op 15 Oktober 1910 die sekretaris van die Transvaalse Polisie.

Met die herorganisasie van die Unie se polisiemag het hy op 1 April 1913 onderkommissaris sowel as Sekretaris van die Polisiediens geword. Hy was van 1 Mei 1913 tot 16 November 1920 Hoof van die Transvaalse Afdeling van die Polisiediens met die rang van luitenant-kolonel.

Nettie is op 3 Mei 1920 aan malaria dood en is in die Rebeccastraat-begraafplaas begrawe. Manie het ‘n tweede keer getrou met ‘n weduwee, Hilda Henrietta Oelrich, gebore Barry.

Met sy aftrede op 31 Desember 1926 was hy Sekretaris en Hoof Onderkommissaris van die Unie van Suid-Afrika Polisie. Na sy aftrede het hy vir 'n tyd lank as vee-inspekteur van die Sentrale Padvervoerraad gewerk en het tot sy dood op 19 Maart 1953 op 87-jarige ouderdom, op sy plaas Zonneheuvel, distrik Marquard, Vrystaat geboer.